Friday, November 28, 2008

Val in die Gees - Bybels of nie

Vandag word “val in die Gees” as die algemene aanduiding van die Gees se teenwoordigheid met krag beskryf en dit word as die bewys gegee dat jy die salwing ontvang het. Is daar skrif in die Bybel vir hierdie ervaring? Of werk God buite die Woord?

“Val in die Gees” was algemeen bekend in die vroeë Amerikaanse Metodisme, veral by kamp byeenkomste en liefdes feeste. Hierdie verskynsel word ook na verwys as “om te val onder die krag van die Gees”, “om te val voor die Here” of “om te rus in die Here”.

Op geleenthede waar handoplegging beoefen word, kom kerklidmate of besoekers na vore op ‘n uitnodiging om ‘n salwing te ontvang. Daar word gebid vir deelnemers en hande opgelê deur die geestelike leier of leiers, waar dan die Heilige Gees oor hulle kom en hulle omval, gewoonlik agteroor. Meeste van die tyd word die val gebreek deur iemand wat hulle vang (catchers), om beserings te voorkom.

Baie Christene wat dit ervaar glo dat hulle genees is of ‘n spesiale seën van God ontvang het. Sommige sê dat hulle ‘n visie ontvang het of God se stem gehoor het.

Toe die Heilige Gees op Jesus neergedaal het soos ‘n duif nadat Johannes Hom gedoop het, het Hy nie in mekaar gesak of omgeval nie. Jesus het krag gehad om selfs die ergste siektes, blindes en verlamdes te genees, en nêrens sal jy vind dat enigiemand van daardie persone wat Jesus aangeraak het, omgeval het nie.

Ons vind dit ook nie by Petrus of Johannes dat hulle mense aangeraak en hulle omgeval het nie. Hulle het nie ander dissipels gevra om agter die mense te gaan staan wanneer hulle mense hande op gelê het, om hulle te vang nie. Ons lees nêrens in die Nuwe Testament waar mense in ‘n ry gaan staan het om die salwing te ontvang nie. Nêrens sien ons die Apostels rond hardloop en mense op die voorkop slaan, of hulle in ‘n lyn laat staan om “om te val” nie.

Geen sagte musiek of repiterende liedere word gesing om ‘n atmosfeer te skep vir die salwing om te val nie. Hulle het nie herhaaldelik uitgeroep, “Vuur!” of “Ontvang” of “Meer, Here!” nie. Waar kom dit alles dan vandaan?

Diegene wat hierdie ervaring voorstaan moet mooi gaan dink oor dit wat hulle aan die Heilige Gees toeskryf. Daar is geen Bybelse voorbeeld vir “val in die Gees” soos ons dit vandag sien gebeur nie.

Kom praat saam!